North West & Gauteng

Article

    Tyd om te groet
    23 March 2016



    Schalk Hoon, bestuurder by Klerksdorp Tehuis, tree einde vandeesmaand af. Hy groet met die volgende boodskap:

    'Gedurende Julie 2008 sien ek ʼn klein advertensie in Rapport wat lees: ' Bestuurder vir Tehuis vir bejaardes in Wolmaransstad.' As afgetrede bankbestuurder doen ek aansoek en word ek genooi vir 'n onderhoud in Wolmaransstad. 'n Paar weke later op 18/8/2008 meld ek as bestuurder aan. Dit is nou 7 en 'n half jaar later in diens van NG Welsyn en wat 'n ondervinding was dit nie! Na ongeveer 4 jaar in Wolmaransstad is ek na Klerksdorp verplaas, waar ek na drie en 'n half jaar teen einde Maart 2016 die tuig neerlê.

    Wat 'n voorreg was dit nie om met bejaardes uit elke sfeer van die lewe skouers te skuur nie. Gedurende die tydperk wat ek in Wolmaransstad gewerk het, het ek in die week in die tehuis gebly en net naweke huis toe gegaan. Ek het die inwoners van naderby leer ken en hulle was later soos eie familie. Ek het met 'n swaar hart van Wolmaransstad afskeid geneem – nie alleen van die tehuis nie, maar ook van die gemeenskap. Die laaste 3 jaar in Klerksdorp was weer 'n ervaring op sy eie – nie so intens soos in Wollies nie, maar met elke bejaarde het ek 'n spesiale band probeer smee. Wat dit veral interessant gemaak het, is dat elke bejaarde sy of haar eie persoonlikheid het. Daar is die liefdevolles, die korrelkoppe, die vredemakers, die wat met alles foutvind en die wat met alles tevrede is. Dit was 'n wonderlike bykans 8 jaar en ek sal dit vir niks wil verruil nie. Wees verseker dat elkeen van my kollegas baie spesiaal was.

    Ek gaan nou in Somerset Wes in die Wes-Kaap aftree: draf, fietsry, wandelpaaie stap, rooiwyn drink en met my kleinkinders kuier. Ek groet u tot wedersiens.'

More Articles