North West & Gauteng

Article

    Maatskaplike werker help ouers om lewensstorie in te kleur
    27 March 2017



    'Tannie, hoe oud moet ek wees voor ek uit die kinderhuis mag kom en weer vir mamma en pappa sien?' Daardie oomblik toe een van die kinders vir my vra: was vir my een van die swaarste vrae wat ek nog ooit moes beantwoord. Hoe stel ʼn mens ʼn kind, wat met soveel vrees en angs worstel oor die vraag of hy ooit weer sy ouers gaan sien, in daardie stadium gerus?

    In Augustus 2016 het die gemeenskap hulle genoodsaak gevoel om druk op NG WELSYN te plaas om ondersoek in te stel na ʼn gesin oor wie almal bekommerd was. Sewe (7) kinders is in die proses van daardie twee ouers verwyder. As ʼn maatskaplike werker was dit my eerste verwydering. Om die kinders te moes verwyder was vir my net so traumaties as vir die gesin. Ek en twee van die maatskaplike werkers het self agter ʼn toe deur ʼn traan gestort.

    Die proses het sodanig verloop dat die kinders teruggeplaas is in hul ouers se sorg. Dit was vanselfsprekend dat die verhouding tussen my en die ouers van voor af aan herstel moes word. Die ouers was bereid om enigiets in hulle vermoë te doen om die moontlikheid dat die kinders ooit weer onder hul toesig verwyder sou word, uit te skakel. NG WELSYN het die gesin met verskeie netwerke verbind met die oog daarop om aan hulle die nodige ondersteuning te gee om hulle uit hul omstandighede te kon uitlig. Die biologiese moeder het eendag gesê dat ʼn mens soms ʼn “skrikmaak” moet ervaar om jou volle potensiaal te bereik. Die gesin het verhuis van ʼn eenslaapkamer-woonstel na ʼn lieflike plot wat ruim genoeg is vir die hele gesin om elkeen hulle stokperdjies te beoefen. Die biologiese pa spog met ʼn stoor vol handgemaakte houtmeubels uit palette. Intussen het die biologiese ma ʼn klein kafee opgerig wat sy tuis bedryf, wat dien as ʼn bykomende inkomste. Ten spyte van alles wat die gesin die afgelope 7 maande deurgemaak het, het hulle liefde vir mekaar as baken vir mekaar gedien en dit het hulle gemotiveer om die beste te maak van wat aan hulle gegee is. In die gebroke wêreld waarin ons as maatskaplike werkers daaglikse ʼn stryd voer om ʼn verskil te probeer maak is hierdie tipe geval ʼn storie van hoop. Dit besorg aan ʼn mens weer nuwe ywer en krag om soggens opgewonde op te staan en werk toe te gaan – om mense te bemagtig om hul eie lewensverhale in te kleur deur hulle volle potensiaal te bereik.

More Articles